​Voor en na: Vervelige balkonne wat styl kry (sonder ‘n fortuin)

Johannes van Graan Johannes van Graan
Gerberas in Bloom, Studio StageRô di Roberta Anfora - Home Staging & Photography Studio StageRô di Roberta Anfora - Home Staging & Photography
Loading admin actions …

Met die somer oppad begin die meeste van ons al klaar planne maak wanneer en hoe ons meer tyd buite kan spandeer. En selfs al het jy net ‘n klein ou woonstel balkonnetjie tot jou beskikking kan jy nog steeds bietjie vars styl en pragtige kleure geniet sonder om ‘n plaas se prys te betaal.

Hoe so? Deur na hierdie 6 voorbeelde te kyk van verwaarloosde en vervelige balkonne en stoepe wat pragtig oorgedoen is sonder baie geld of moeite…

1. Die wonder van kleur

Indien enigiemand se balkon of stoep soos hierdie een lyk neem ons hulle glad nie kwalik dat hulle nie meer tyd buite wil spandeer nie.

‘n Ordentlike skoonmaak sessie was eerste aan die beurt, en toe is dit tyd vir ‘n paar houtkratte, kleurvolle kussings en ‘n handvol potplante – en die resultaat is te treffend!

2. So bietjie patroon

Hierdie balkon het al klaar soveel potensiaal gehad danksy daardie pragtige baksteenmure wat patroon en tekstuur aan die agtergrond verskaf.

Dankie tog iemand het daardie vervelige wit tuinstoel verwyder en dit vervang met hierdie prettige groen modelle. En nadat gekleurde kussings en ‘n moderne koffietafel bygevoeg is, is hierdie stoepie nou gereed vir rustige buitelug ontspanning!

3. ‘n Groot spasie

Meer spasie bied natuurlik meer potensiaal vir styl, maar dit lyk eerder asof hierdie balkon ‘n stoorplek begin word het.

Gelukkig is dit sommer gou-gou stopgesit en die twee oorblywende stoele bietjie bederf met sagte kussings, ‘n houkrat tafeltjie, en ‘n mandjie blomme vir ekstra kleur.

4. Nie te nou nie

Al is hierdie balkon aan die nou kant, kan mens nog steeds werk met die klein spasie, maar dan moet daardie kleurskema beslis eers bygekom word.

Dis mos soveel beter! Die wit en swart van die tafeltjie, tesame met die maroen langs die kant, breek bietjie die mosterdgeel van die mure, maar ons kan beslis ook sien dat hierdie spasie (gelukkig) met water en seep bygekom is.

5. Dooie spasie

Weereens het ons ‘n voorbeeld wat gaan wys hoe baie styl in ‘n klein spasie kan pas, mits kreatiwiteit, kleur en ‘n ordentlike skoonmaak-sessie bygevoeg word.

Ja nee, daardie langwerpige bakstene in die agtergrond voeg lekker patroon by, en ons is ook mal oor die sandkleur van die mure – dit gaan perfek saam met die vars groene van die nuwe mat en kussingtjies.

6. Propvol potensiaal

Al is hierdie balkon nou nie baie skoon nie, is dit nog steeds heerlik oop en kry lekker lig. Dit maak hierdie transformasie sommer soveel makliker…

‘n Ou tafeltjie met twee stoeltjies, ‘n tafeldoek en kussing vir bietjie kleur, en ‘n handjievol dekor vir karakter – en dis al wat nodig was (behalwe vir die ordentlike vee en skrop van die vloer en mure, natuurlik). 

Definitief gereed vir ‘n luilekker somersmiddag! 

Gepraat van vars styl, kyk gerus na 7 klein tuine: mooi om na te kyk, maklik om na te boots!

Need help with your home project?
Get in touch!

Highlights from our magazine